Nasionale Ordes
Nuwe Nasionale Ordes vir Suid-Afrika
Agtergrond
Die Orde van die Baobab
Nominasie vir Nasionale Ordes [PDF]
Nuwe Nasionale Ordes vir Suid-Afrika
Nasionale ordes is die hoogste toekennings waarmee 'n land, via sy president, sy eie burgers en uitnemende buitelandse burgers vereer. Die president, in sy hoedanigheid as bron (houer, wieg, oorsprong) van eer in die land, ken hierdie ordes en dekorasies toe. Hy word deur die direkteur-generaal van Die Presidensie, wat kanselier van nasionale ordes en van 'n adviesraad op nasionale ordes is, in die nakoming van hierdie verantwoordelikheid bygestaan.
Agtergrond
Die geboorte van 'n nuwe nierassige en nieseksistiese demokrasie in Suid-Afrika het 'n kritiese hersiening van die stelsel van nasionale ordes nodig gemaak. Die vorige stelsel het uit een dekorasie en vier ordes bestaan, met 'n simboliese estetika wat verteenwoordigend van die verlede was..
In 'n poging om van die verlede weg te beweeg, het die nuut gestigte Presidentsadviesraad op Nasionale Ordes in Mei 1998 die taak en verantwoordelikheid gekry om die stelsel van nasionale ordes en toekennings te hersien. Ten einde hierdie taak uit te voer, is 'n tegniese komitee in die lewe geroep. Hierdie komitee het 'n uitvoerige en inklusiewe navorsingsproses aan die gang gesit, met openbare samesprekings, onderhoude met insethouers op nasionale skaal, groepbesprekings wat op alternatiewe stelsels gefokus het, opdraggewing vir historiese navorsing, en juweliers- en medaljeontwerpers byeengebring het om nuwe medaljes aan die hand van 'n ontwerp-opdrag te ontwerp.
Die voormalige Departement van Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie het, as deel van hierdie proses, in samewerking met die Regeringskommunikasie- en -inligtingstelsel (GCIS), dieper na simbole en simboliek ondersoek ingestel in 'n poging om die essensie vas te vang van 'n nuwe estetika wat die gees van die nuwe land weerspieël. 'n Paneel bestaande uit akademici en vakkundiges wat in inheemse simbole en simboliek onderlê is, is gevra om sleutelfaktore en -elemente te identifiseer wat die kollektiewe en inklusiewe geskiedenis en ervaring van Suid-Afrika, met Suid-Afrika as die belangrikste verwysingspunt, aandui. Die gesamentlike resultaat van hierdie proses het tot opdraggewing vir, en uiteindelik die ontwerp van, die nuwe nasionale ordes gelei.
Konteks
Suid-Afrika het reeds beduidende vordering in die wegbeweeg van sy verlede van uitsluiting en diskriminasie op grond van seks, kleur en geloof gemaak. Die land is al geruime tyd lank bestendig aan die voortbeweeg op 'n pad wat na die herstel van ons mensheid lei. In hierdie opmars na humanisme het 'n nuwe kultuur van menseregte en respek vir die waardigheid van die menslike gees tiperend van Suid-Afrika geword.
Een van die simboliese momente in die uittog uit die verlede was die hys van die nuwe vlag in 1994. Hierdie oomblik het die trots en waardigheid van 'n land in wording en 'n viering van humanisme op gepaste wyse bevestig. 'n Soortgelyke moment was die onthulling, op 27 April 2000, van die nuwe landswapen, waarin die kollektiewe historiese essensie van die inwoners van die land saamgevat is. Hierdeur het 'n nuwe estetika, wat Afrika en Afrika-simbole in berekening bring, deel geword van die nuwe kultuur wat tekenend van die Suid-Afrikaanse hergeboorte is.
Dit is in die gees van daardie hergeboorte dat daar aan die nuwe nasionale ordes gestalte gegee is.
Die drie verskillende nuwe Nasionale Ordes is:
Hierdie Orde sal toegeken word aan Suid-Afrikaanse burgers vir uitmuntende en buitengewone prestasie.
Sentrale Motief / Simboliek
Mapungubwe - Die Mapungubwe-koninkryk het 100 jaar gelede in die noordelike hoek van ons land bestaan. Die koninkryk het 'n gesofistikeerde staatsbestel gehad en 'n ontwikkelde landbou. Dit het ook 'n mynbou- en metallurgiebedryf ontwikkel. Die koninkryk het handel gedryf met lande so ver as China. Gedurende sy bestaan het die koninkryk uitnemende menslike denke en vindingrykheid verteenwoordig.
Elemente
Die vier uithoeke van die aarde - simboliseer die prestasies van Suid-Afrikaners regoor die wêreld.
Opkomende son - 'n nuwe daeraad oor Afrika
Mapungubwe-heuwel - vorm die agtergrond, 'n sandsteenheuwel op modderklip-neerslag in 'n dor subtropiese gebied met sporadiese somerreënval. Uitgrawings het getoon dat uitnemendheid floreer in die moeilikste natuurlike omstandighede.
Mapungubwe-renoster - die nou baie bekende artefak wat in 'n graf op die uitgrawingsterrein gevind is, 'n vergulde beeldjie wat rondom 'n sagte kern - waarskynlik houtsneewerk - geskep is, 'n getuienis vir die uitnemendheid van menslike vindingrykheid teenwoordig in die koninkryk.
Mapungubwe-septer - rys uit die goudsmeltpot aan beide kante - nog een van die artefakte wat in 'n graf op die opgrawingsterrein gevind is.
Versierde goudsmeltpot - die eenvoudige simmetriese vorms op die stampvol goudsmeltpot simboliseer die oorvloed van uitnemendheid, wetenskap en kreatiwiteit, getuienis vir die eerste prestasies in metallurgie.
Smeltoond - die suiwerende en lewensondersteunende kenmerke van vuur, wat sedert die Ystertydperk gebruik word, om ontwikkeling en uitnemendheid in samelewings en gemeenskappe te bevorder.
Miniatuur
Lapelroset
Die Orde van die Baobab
Hierdie Orde sal aan Suid-Afrikaanse burgers toegeken word vir uitstekende diens. Die diens gelewer sal bo en behalwe die gewone plig wees. Dit is 'n toekenning vir uitsonderlike en uitstekende bydraes in die volgende kategorieë:
Die stryd om demokrasie;
Die bou van demokrasie en menseregte;
Nasiebou;
Vrede en sekuriteit;
Joernalisme, literatuur, kunste, kultuur, sport en musiek;
Sake en die ekonomie;
Wetenskap, medisyne en tegnologiese innovering, en
Gemeenskapsdiens.
Sentrale Motief / Simboliek
Hierdie Orde word geïnspireer deur die Baobab. Die Baobab (kremetartboom) is 'n tropiese Afrika-boom. Dit is 'n belangrike element in baie agrobosbou-stelsels in Afrika. Dit verskaf bas vir kledingstof en tou, vrugte vir voedsel en brandstof, en baie ander bruikbare produkte. Die oorsprong van die naam Baobab is deel van die baie ryk legends en geheimenisse van Afrika.
Elemente
Baobab (Baobab of Adonsonia Digitata) - bekend vir sy wortels en lang lewensduur. Verskaf nie net skadu en 'n vergaderplek nie, maar is ook sentraal tot die ondersteuning van die gemeenskappe waarin dit gevind word.
Negehoekige vorm - 'n negehoek op die agtergrond simboliseer die baie verskillende gebiede van moontlike bydrae en diens waardeur 'n voorspoedige en vooruitstrewende nasie gebou kan word. Die ikon is ook simbolies van die nege provinsies van ons land.
Buitenste organiese ankervorm - Tekstuur-afwerking van baobab-bas; die bas word algemeen gebruik om matte en hoede te maak.
Miniatuur
Lapelroset
Hierdie Orde sal toegeken word aan individue met buitelandse nasionaliteite (staats- en regeringshoofde) op grond van vriendskap betoon aan Suid-Afrika. Dit is dus 'n Orde vir vrede, samewerking en aktiewe uitdrukking van solidariteit en ondersteuning. Die Orde is 'n wesenlike steunpilaar vir internasionale en multilaterale betrekkinge.
Al die toekennings behels vier elemente: 'n wandelstok, 'n nekwapen, 'n miniatuur- en 'n lapelroset. Die laaste Orde bestaan uit drie elemente: 'n nekwapen, 'n miniatuur- en 'n lapelroset.
Sentrale Motief / Simboliek
OR Tambo - Het wyd gereis oorsee as verteenwoordiger van die onderdrukte mense van Suid-Afrika en het 'n belangrike rol gespeel in die groei en ontwikkeling van die internasionale solidariteitsbeweging teen rassisme en apartheid. Hy het ondermeer die eerste missies van die bevrydingsbeweging in Egipte, Marokko, Ghana en Londen gevestig - 'n beskeie begin waardeur die vriende van Suid-Afrika dwarsoor die wêreld byeen gebring is ter ondersteuning van 'n vrye en demokratiese Suid-Afrika.
Majola (Molslang) - Die slang wat babas na geboorte besoek. Dit doen die baba of lede van die gesin geen kwaad nie en die enigste vriendelike manier om dit te verjaag, is vir die moeder om dit met haar eie borsmelk te spuit. Dit besoek die baba om dit voor te berei vir 'n suksesvolle en veilige lewe as volwassene. Die slang kom as 'n vriend en beskermengel. Die vriendskap wat hierdeur getoon word is nie geanker in 'n goedhartige demonstrasie van welwillendheid nie, maar is eerder 'n aktiewe uitdrukking van solidariteit en 'n strewe om die jong en groeiende lede van die menslike ras te ondersteun en om langtermyn sukses te bevorder. Die slang leef voort in Afrika mitologie deur die klassieke werk van A.C. Jordan, The wrath of the ancestors. Die werk verander die konvensionele persepsie van 'n slang as bloot vyandig gesind. Dit vestig die breër Afrika interpretasie van die slang as 'n vriend en lid van 'n dinamiese ekologie.
Elemente
Wandelstok - uit donker, inheemse hout gekerf en 'n simbool van waardering vir die ondersteuning en solidariteit bewys, ook terselfdertyd 'n verbintenis om die ontvanger daarvan te ondersteun en by te staan.
Wandelstok
Majola - die waaksame oog met hake beide bo en onder simboliseer erkenning vir die aktiewe uitdrukking van solidariteit en ondersteuning vir Suid-Afrika.
Miniatuur
Lapelroset
Gold Mametja se gelukkige naam onderskryf sy talente. Sy ontwerpe is gekies uit dosyne ontwerpe wat ingedien is nadat die GCIS juweliersontwerpers genooi het om ontwerpe vir die nuwe Ordes in te dien. Dié jong ontwerper van The Oaks in Limpopo is 'n nywerheidsontwerper by die WNNR in Pretoria. Hy, sy vrou en twee kinders woon in Kempton Park.
